Wednesday, February 17, 2010

Vel Kanker

Vel kanker

Suid-Afrika het, na Australië, die hoogste voorkoms van velkanker in die wêreld - ongeveer 20 000 nuwe gevalle word jaarliks aangemeld. Velkanker is die mees algemene kanker in ons land en meer as 700 Suid-Afrikaners sterf jaarliks hieraan.

Melanoom is die mees algemene kanker in mense tussen 25 en 29. Die hoë voorkoms van velkanker kan slegs verminder word as ons meer ingelig word oor hoe om die sonskade te voorkom wat tot velkanker kan lei.

80% van velskade vind voor 18 plaas en die skade word eers op ʼn latere ouderdom merkbaar.


Ons sonnige klimaat met lang, warm somers is een van ons grootste voordele. Duisende mense stroom jaarliks na die kus om te gaan baai en luilekker op die strand te ontspan. Jy is dalk een van hulle, of jy geniet tuinwerk,gholf of enige ander buitelugaktiwiteit. In ieder geval is dit uiters belangrik dat jy jou en jou kinders se velle teen die skadelike sonstrale beskerm. 80% van velskade vind voor 18 plaas en die skade word eers op ʼn latere ouderdom merkbaar.

Daar is 3 hoofsoorte kanker:
Basaalselkarsinoom – dit word dikwels verwar met ʼn seerplek wat nie wil genees nie en lyk gewoonlik soos ʼn opgehewe, gladde, pêrelagtige knop op dié deel van die kop, nek en skouers wat aan die son blootgestel word.

Skubselkarsinoom – dit kom meesal op blootgestelde dele van die liggaam voor en is gewoonlik opgehewe, pienk, deursigtige knoppies of vlekke wat dikwels swere of sere in die middel vorm.

Kwaadaardige melanoom – dit is dikwels klein, bruin of swart of groter, veelkleurige vlekke met ʼn oneweredige buitelyn wat soms ʼn kors vorm en bloei.

Die Engelse ABCD-gids bied ʼn nuttige riglyn vir die identifisering van ’n kwaadaardige melanoom:
A – Asimmetry/Oneweredigheid (die een kant van die letsel verskil van die ander)
B – Border/Buitelyn (die buitelyn van die letsel is oneweredig met kepies)
C – Colour/Kleur (melanome is dikwels ʼn kombinasie van kleure)
D – Diameter/Deursnee (kankeragtige letsels se deursnee is gewoonlik groter as 6 mm – ongeveer die grootte van ʼn potlooduitveër)

Die volgende mense het ʼn groter risiko om velkanker te ontwikkel:
Mense met ’n ligte vel, veral die soort wat sproete vorm en maklik in die son brand.
Mense met ligte hare en blou of groen oë.
Mense wat reeds vir velkanker behandel is.
Mense met baie moesies.
Mense met ʼn familiegeskiedenis van velkanker
Mense wat een of meer kere erge sonbrand op ʼn jong ouderdom opgedoen het.

Hoewel daar ander oorsake van velkanker is, soos die gebruik van sonbruintoestelle, buitengewone hoë blootstelling aan x-strale en kontak met chemiese middels soos arseen en hidrokoolstowwe, is die mees algemene oorsaak steeds blootstelling aan die ultravioletlig (UV) wat ons normaalweg uit sonlig kry.

Voorkoming:
Sonbrand moet verkieslik vermy word maar hou in gedagte dat UV-blootstelling elke dag gebeur, selfs wanneer dit bewolk is. Tref voorsorg wanneer jy buite is en beperk die tyd in die son, veral tussen 10:00 en 15:00 wanneer die son se strale die gevaarlikste is. Probeer so veel moontlik in die skadu bly en wees daarvan bewus dat UV-strale van gras, sement, glas, water en sand af weerkaats.

Wend sonskerm met ʼn sonskermfaktor (SPF) van ten minste 20 vryelik aan – sonbeskermingsroom behoort 30 minute voor blootstelling aan die son aangewend te word en weer nadat jy geswem het - en elke 2 ure van sonblootstelling.

Vroeë opsporing vergroot aansienlik die kanse op suksesvolle behandeling.


Dra sonbrille wat jou oë beskerm terwyl jy buite is en gebruik ʼn liproom wat ’n sonbeskermer bevat.

Bedek jouself en jou kinders met hoede en hemde. Die hoed behoort die gesig, nek en ore te bedek. Hoe digter klere geweef is, hoe beter beskerm dit teen die son.

Vermy sonbruintoestelle. Volgens professor Werner Sinclair, ʼn dermatoloog aan die Universiteit van die Vrystaat, verdubbel die gebruik van kunsmatige sonbruintoestelle die risiko van ʼn individu om ʼn melanoom te ontwikkel.

Behandeling:
Laat enige kommerwekkende moesie of letsel deur ʼn velspesialis ondersoek. As die letsels moeilik identifiseerbaar is of vermoedelik kankeragtig is, sal ʼn biopsie geneem word. As die biopsie toon dat jy ʼn kwaadaardige melanoom het, sal jy verdere toetse soos ʼn bloedtoets en ʼn x-strale van die bors moet ondergaan.

Basaalsel- en skubselkarsinoom behels gewoonlik die chirurgiese verwydering van die letsel, wat afdoende behandeling behoort te wees. Kwaadaardige melanoom word meer aggressief behandel en ʼn aantal behandelings kan nodig wees soos chirurgie, bestraling en chemoterapie.

Neem self die verantwoordelikheid om velkanker by jouself, jou gesin en andere te voorkom. Ondersoek jou vel deeglik elke maand en let op enige verandering. Vroeë opsporing vergroot aansienlik die kanse op suksesvolle behandeling.

No comments:

Post a Comment